Om op jou oudag van rekenaars te leer,
is sowaar die pynlikste van alle seer.
Om nie eers van die frustrasie te praat nie
en die letsel wat dit op jou selfbeeld laat nie.
Jy moet leer om met die muis sekuur te klik
en tjoepstil te hou, sodat die gedierte nie skrik.
Hy is mos sensitief, vol streke en wispelturig,
soms baie hulpvaardig maar pla jou gedurig.
Net sodra jy dink dat jy nou mooi op dreef kom ,
krap hy alles deurmekaar en jy voel onnosel en dom.
Dan is daar nog al die knoppies met vreemde name.
Jy druk net een op ‘n slag, en soms twee tesame.
Pas tog op vir ‘n boodskap wat op die skerm verskyn.
Druk ‘n verkeerde knop en woeps, het jou werk verdyn!
As jy vergeet van “save” is dit nog ‘n seker manier,
om jou moeisaam verworwe geskrif nooit te sien op papier.
Dan is daar nog vraelyste wat jy glad nie verstaan nie.
Die antwoorde ken jy nie,of weet waaroor dit gaan nie.
Dié elektroniese apparaat laat voel jou hy is jou baas,
Intimmedeer jou totdat jy druipstert die aftog moet blaas.
Waar dié moderne uitvindsel my egter die hardste slaan,
is sy verdraagsame manier om met die jeug om te gaan.
Alles werk skynbaar vir hulle moeiteloos en perfek,
al toon hulle geen waardering of ‘n greintjie respek.
Ek voel so moedeloos, verslae en totaal oorrompel.
Het my brein dalk gekrimp of heeltemal verskrompel?
Gestroop van trots en eiewaan, my selfbeed geknou;
durf ek toelaat dat ‘n blikbrein my onderkry - watwou!
Ek probeer weer en weer totdat ek trots en selfvoldaan
met my netjies getikte skrif in my hand kan staan.
Vir oulaas kry ek’n geniepsige hou uit die bloute –
my tikwerk wemel van die flaters en foute!
Lina Swanepoel