Op my rype ouderdom ag ek myself besonder bevoorreg
as ek kan oefen in die gym, om ouderdomskete te beveg.
Ek trap die oefenfiets dat die sweet op my lyf uitslaan.
Dan voel ek so goed en verbeel myself weer jonk in my waan.
Neffens my merk ek ‘n jongman in die fleur van sy lewe.
In die vorige bestel was hy blykbaar benadeel en agtergeblewe.
Nou duidelik bevoordeel straal dit uit sy houding en mondering.
Hy geniet die voordeel van diè vernederende klassifisering.
Sy sportdrag, die nuutste op die mark leerhandskoene de lot.
Met my goedkoop klere en tekkies voel ek so effens verspot.
Ek merk ook die bottel mineralewater wat langs hom staan
en gaan maar ongemerk ‘n slukkie water drink by die kraan.
Was ek dan ooit bevoordeel wonder ek vir die soveelste maal,
as ek wat steeds my sente tel, die prys vir ongeregtigheid betaal!
Lina Swanepoel