Ons haas oor die besige straat na die veremarksaal.
Toustaan vir afslag kaartjies in die groot ontvangslokaal.
Imposant en histories, dateer uit die era van volstruisveergrasie.
Gerestoureer en stylvol opgedollie vir menig deftige okasie.
Geruisloos met die dikgematte trappe op na die gallery.
Skuins links van die orrel is waar ek my sit kom kry.
Indrukwekkend met afmetings wat jou kop laat draai,
is die reuse orrel in die ouditorium, die trots van die Baai.
Ontwerp en gebou deur talentvolle manne met ervaring-
Orrelis Albert Troskie en die orrelbouer, Jan Pekelharing.
Reuse orrelpype met groot pienk monde wyd gesper,
wagtend, gereed vir die eerste akoorde van Betlehemster.
Iewers diep agter in donker kele,
wag fyn gestemde tonge op hul bevele.
Applous vir die maestro as hy binnekom,
verdwerg deur die kolosale instrument voor hom.
Dan wonder jy wie is baas en wie is Klaas,
totdat klankgolwe, met blaasbalk-asem tot in elke hoekie blaas.
Nou is dit die beurt van die joviale Griekse tenoor,
wat in vier tale sing en met stem en gebaar elkeen bekoor.
Drie soprane met suiwer stem en orrel kombinasie,
in harmonie ‘n onvergeetlike klank sensasie.
Dan word ons vergas op ‘n vrolike keurspel,
‘n Rapsodie van kersliedere en variasie saamgestel.
Vlugtige vingers in beheer van vier manuale,
vinnige voete wat trippel op die voetnoot pedale.
Hy geniet homself, ek mag seker nie sê ringkink nie,
maar dan het “Jingle Bells” ook nog nooit so goed geklink nie.
‘n Manjefieke instrument en ‘n briljante inprovisasie.
Applous vir die maestro en ‘n staande ovasie.!
Lina Swanepoel