DIE SPINNEWEB.
Gekoester in die eerste strale van die son sit en wonder ek
hoe die spinnekop dit regkry om so kunstig en perfek
oornag ‘n ragfyn doylie in foutlose kantpatroon te spin
met een dun sydraad sonder ‘n enkele knoop of las daarin
en ‘n duisend blink dou-druppel-krale daarin vas te vang
dog so ongeërg en aspris dié kunswerk reg in my pad te hang.
KEES SE KIND.
Telkens as ek my op ‘n wandelpad bevind
word ek luidkeels gegroet deur kees se kind.
Van waar hy op sy krans sit en die wêreld bespied
laat hy my onomwonde weet ek betree sy gebied.
Met mishoop bakentjies is dit tog duidelik afgemerk,
onmiskenbaar die stempel van Kees en Kie Beperk!
OU SKILLIE.
Met jou kort beentjies waggel jy op ‘n drafstappie,
sukkelend oor die klippe op soek na ‘n sappige happie.
Jy is so oulik met jou teëldak huisie wat jy op jou ruggie dra.
Ek kan nie verstaan waarom almal jou alewig moet pla.
Jy word opgetel en van onder bekyk: “Ag hoe fraai.”
Al vergeet jy nooit om jou kraantjie oop te draai.
DIE GEELHOUTBOOMPIE.
Daar het ‘n geelhout boompie reg in die pad gestaan
waar stappers met ruwe stewels langs moes gaan.
Daar kom toe eendag ‘n paar gawe stappers verby
wat nie wou sien dat so’n edele boompie seer moes kry.
Gou het hul die tenger boompie met klippe omring.
‘n Les vir elkeen om hulde aan die natuur te bring.
Lina Swanepoel