Tussen blaar en tak verskans
met ruwe stokke, kruis en dwars saamgeflans
'n arendsnes... knus in die hoogste geelhoutboom
nie te ver van waar dassies op warm klippe droom.
Instink en breinkrag het saam gespan
om dié strategiese ligging te beplan.
Uitkykpos verhewe bo gevaar
duislingwekkend ...onaantasbaar.
Jaar na jaar sal twee kuikens vanaf dié verhoog
protesteer en vir meer kos betoog.
Eersgeborene uitverkorene sorg dat hy die meeste kry.
Boelie vir Abeltjie tot daar niks van hom oorbly .
Op die grond lê wit gebleikte bene verstrooi.
Dassieskedels ...stille getuines van 'n arend se prooi.
Die wet van die natuur... die sterkste moet oorwin.
Ewige stryd om oorlewing... dit maak tog sin.
In die laat middag lê 'n dassie loom
op 'n louwarm klip in versonke droom.
Met gespreide vlerke hoog in die lug
ry 'n arend op 'n lugstroom se rug.
Te laat die swiep van 'n arendsvlerk gehoor.
Skerp kloue het die sagte pels deurboor.
Hoog word sy die lug ingedra
ver weg van waar haar honger kinders kla.
Dikgevrete arendskuikens gee 'n laaste gaap
voordat hulle wegdommel in die nag se slaap.
Ver benede waar hul in die klipskeur skuil
hoor net die honger jakkals,baba dassies huil.
Die wet van die natuur: Die een se dood die ander se brood!
Lina Swanepoel